Carolina se boorgate is besoedel
Inwoners van Carolina en Silobela ervaar weer ’n waterkrisis nadat suur mynwater twee jaar gelede uit hul krane geloop het.
Hierdie keer is hulle gewaarsku om nie die water uit hul boorgate te drink voordat hulle dit nie laat toets het nie omdat van die grondwater met E.coli en nitrate besoedel is.
Regslui vir Menseregte (RMR) het in ’n verklaring gesê mense het die laaste tyd aanhoudend by dié nie-regeringsorganisasie gekla dat hulle siek word van die dorp se boorgatwater.
RMR het daarom besluit om water uit twee boorgate, ver uit mekaar, “aan weerskante van die dorp” te laat toets. “Die resultate was ontstellend,” het Emma Algotsson van RMR gister gesê.
Sy het gesê inwoners van Carolina het in 2012 nadat suur mynwater uit die dorp se krane geloop het, oral in en om die dorp boorgate laat sink. Minstens 30 boorgate is kort ná hierdie waterkrisis gesink omdat die kraanwater giftig was. Carolina se kraanwater het intussen aansienlik verbeter omdat die dorp se watersuiweringsaanleg opgegradeer is. Baie mense, veral dié in Silobela, gebruik egter steeds boorgatwater omdat hulle vertroue in die dorp se kraanwater verloor het. Hulle kla ook dat die kraanwater sleg ruik en snaaks smaak, het Algotsson gesê.
“Dit lyk nou egter asof Carolina se grondwater, hul enigste ander alternatiewe waterbron, ernstig besoedel is,” het sy gesê. Sy skryf dit daaraan toe dat die watertafel vlak is en water onttrek word op plekke waar rioolafval uit stukkende pype lek.
Rioolafval sypel waarskynlik ook uit ou puttoilette in die grondwater in.
Die toetse is gedoen by die twee moskees wat tydens die krisis van 2012 boorgatwater aan inwoners verskaf het.
Walter Mngomezulu, burgemeesterskomiteelid verantwoordelik vir tegniese dienste by die Albert Luthuli- plaaslike owerheid, het gesê hy is nie bewus daarvan dat Carolina se mense boorgatwater bo kraanwater verkies nie. “Ons kraanwater is nou uitstekend.” Hy het gesê die plaaslike owerheid toets ook nie die gehalte van boorgatwater nie. “Ons is nie bewus van die RMR se toetse nie.”
Algotsson het gewaarsku dat dié soort besoedeling in Carolina se boorgatwater tot ernstige naarheid, moegheid en bloubabasindroom kan lei.
Die nitraat-vlakke in die water wat getoets is, is 14,7 mg/l. Die aanvaarbare vlak is 6 mg/l.